Enige Vordering is Vooruitgang
04 February 2026

Enige Vordering is Vooruitgang

God se Woord VARS vir jou Vandag

About

Send us a text

Sagaria 4:10 Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Die mense sal bly wees wanneer hulle sien Serubbabel gaan aan met die bouwerk. 

As jy een van daardie mense is wat koersvas en vasberade goeie dade verrig, kan jy soms moedeloos voel wanneer jy bitter min vordering beleef. Dis asof niks gebeur nie, totdat jy skielik eendag terugkyk om te ontdek hoe ver jy in werklikheid gevorder het.

Tyd gaan vir 'n jong moeder wie se dag uit luiers, tandekry en woedebuie bestaan, stadig verby. Maar op die dag wat haar kind gradueer, kan sy terugkyk na die wonderlike reis wat sy gehad het; die vordering wat deur haar arbeid en geswoeg plaasgevind het.

'n Jong man wat met groot drome die arbeidsmag betree, ervaar dat tyd teen 'n ongelooflike stadige tempo beweeg waar hy op die laagste sport van die leer begin. En na 'n paar jaar met ‘n bietjie meer verantwoordelikheid en 'n bietjie hoër salaris sê hy: "Sjoe, kyk hoe mooi het ek gevorder!"

Toe Israel na sewentig jaar van Babiloniese ballingskap na die Beloofde Land teruggekeer het, was die herbou van die eens glorieryke tempel in Jerusalem 'n uitdagende taak. Onder uiters moeilike omstandighede het hulle hierdie reuse-onderneming met nederigheid en sonder veel sigbare vordering voortgesit. Maar God eer die begin, hoe klein ook al, wanneer dit in die regte rigting op pad is. Kyk wat sê die profeet om hulle aan te moedig …

Sagaria 4:10 Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Die mense sal bly wees wanneer hulle sien Serubbabel gaan aan met die bouwerk.

Getrouheid in die klein dingetjies is vir God kosbaar. Wat saakmaak, is nie hoe vinnig (of stadig) dit vir ‘n mens voel nie, maar wat wél tel, is dat jy in die regte rigting beweeg. In God se oë is vordering, vooruitgang. En Hy seën dit.

Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

Support the show

Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY