Skip to content
Opens in a new window
Deur Harde Grond Breek
14 September 2026

Deur Harde Grond Breek

God se Woord VARS vir jou Vandag

About

Send us Fan Mail

Hosea 10:12 Ek het gesê: “Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle 'n nuwe land! Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet.” 

Wat doen jy wanneer jy agterkom dat jou hart begin hard word? Dit gebeur nie sommer oornag nie, maar so bietjie vir bietjie. Wat doen jy wanneer bitterheid jou hoop steel; wanneer gebed heeltemal nutteloos voel, en wanneer jy wéét iets is fout, maar jy kan nie presies jou vinger daarop lê nie? Jy kan aanhou maak asof alles reg is … óf jy kan begin grawe.

Boere weet wat gebeur as jy ’n landery te lank onbewerk laat lê; die boonste laag word kliphard en die water hardloop net weg. Goeie saad kan dan glad nie wortel skiet nie. 

Gedurende die groot droogte van die 1930's in Amerika – die bekende "Dust Bowl" – het duisende boere hierdie les op die moeilike manier geleer. Omdat die grond oorbewerk en afgeskeep was, kon dit glad nie meer die reën absorbeer nie. Maar die paar boere wat diep geploeg het om die grond weer te herstel, het gesien hoe die groen lote teruggekom het toe die reën uiteindelik geval het.

Dit is presies die prentjie wat die profeet Hosea skilder wanneer hy God se volk terugroep na die Here toe:

Hosea 10:12: Ek het gesê: “Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle 'n nuwe land! Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet.”

Israel se gerieflike lewe het hulle harte soos daardie harde braakgrond gemaak – droog, hardkoppig, selftevrede. Wat was God se boodskap aan hulle? Moenie vir die reën wag voor julle begin ploeg nie. Breek eers die harde grond oop.

Miskien is dit presies waar jy jouself vandag bevind. Miskien het die lewe se druk, teleurstellings en afleidings jou hart kliphard gemaak. Doen jouself ’n groot guns. Tel die ploeg van bekering op. Ploeg die grond van jou siel om. Want wanneer jy Hom regtig eerlik soek, stuur God altyd die reën.

Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag. 

Support the show

Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY